INHOUD

Home

Editor's Letter

TECHNOLOGY

Reinventing the tube

Keeping up with the Times

J-blogging the best of both worlds?

'n Kykie na die veranderende eenoog-koning

MXit worth its moola

Techno impaired

Mobile media: A threat?

PEOPLE

Solo journalism

What the eyes do not see, does grieve the heart

Beautiful journalism

Vrouetydskrifte + die internet = 'n blink toekoms?

Can u sms it 2 me?

Do you get your news?

Die Burger vir die burgers

The artist formerly known as the audience

THE CHANGING ROLE OF THE MEDIA

Rebuilding the Chinese wall

Politici en hul waghonde

ENVIRONMENT

Burning issue: A changing climate, a changing media

Van toeka tot nou: Die 50/50 suksesverhaal

ART

Kort aan kortverhale?

"Teater van die gedagte" se swanesang?

Gevra: 'n drukmedia Harry Potter

Fluit-fluit is die storie uit vir boeke en boekresensies?

SPORT

Wat sport van vol is, loop die pen van oor

Keeping the game alive...with "sportainment"

 

 

Gevra: 'n drukmedia Harry Potter

Koerante weerspieël die werklikheid van ’n tydgedrewe samelewing. Dit geld ook vir die tegnologie, want soos dit ontwikkel, hou koerante daarmee tred. Janice Keogh het gaan kyk hoe dié veranderinge die uitleg van koerante geraak het om in pas met die gejaagde mens te bly.

Op ’n drafstap gryp jy jou cappucino en croissant by die vrou agter die toonbank en op pad deur toe loer jy blitsig na die koerante op die winkelrak. Foto’s van die vermoorde Sheldean Human en Zim-despoot Robert Mugabe staan uit, so ook die vetgedrukte “Stor­mers”, “Verkragting” en “Xenofobie”. Jy gryp die een wat die meeste opval, stop die geldstuk in die kassier se hand en storm uit. Miskien kry jy later ’n tydjie om gou daarna te loer.

Ons lewe in ’n wêreld waar tyd ’n luuks­heid geword het. Mense wil vinnig by die werk kom, vinnig kommunikeer en nog vinniger inligting kry. Die media moet uithaal om by te bly.
Mense wil nie meer deur ellelange artikels wroeg nie. Hulle wil nóú weet wat aangaan. Die foto en die opskrif moet sê wat gebeur het.

Dis nie net in Suid-Afrika die geval nie.

Nils Indahl, die voormalige Europese direkteur van PressLink in Swede, sê hierdie wêreldwye gejaagdheid van mense het gemaak dat sy spesialiteitsgebied, internetjoernalistiek, so gegroei het.

Die internet is egter nie dagblaaie se enigste kompetisie as dit kom by visuele storievertelling nie. Televisie plaas mediaverbruikers in die middel van nuusgebeure met behulp van video en klank. Die drukmedia moet alles tot hul beskikking gebruik om die leser te lok.

Mense kommunikeer al vanaf die vroegste eeue deur die visuele, hetsy dit rotstekeninge, rookseine of hiërogliewe was. Die mens se voorkeur vir die visuele is vandag dus niks ongewoon nie.

Jennifer George-Palilonis, wat meer as 25 koerante in die VSA herontwerp het, sê in haar boek, A Practical Guide to Graphics Reporting, wat handel oor grafiese verslag­gewing, dat die media vandag meer as ooit méér visueel gesofistikeerd moet wees om by die verwagtinge van die leserspubliek by te hou.

Volgens Jacolette Kloppers, ’n senior bladuitlegkunstenaar van Die Burger, vat dagblaaie soos die Beeld en Die Burger dikwels die kans om iets buitensporigs visueel te probeer.

“Met groot nuusgebeure is koerante in kompetisie met mekaar en gaan dit oor wie dit die beste regkry om die grootheid en belangrikheid van die geleentheid oor te dra. Spesiale geleenthede soos Madiba se verjaarsdag en die 2007 Rugby Wêreldbeker bied baie ruimte tot kreatiwiteit, en dit is dikwels waarom die koerant dán so ’n sterk visuele aanslag het.”

Andries Gouws, Beeld se tipografiese redakteur, sê “toeganklikheid” is die wagwoord. Dit is belangrik om die lees van ’n koerant vir lesers maklik te maak en om deur die gebruik van groot foto’s en ’n groot lettertipe te vertel wat belangrik is om te weet. Hopelik tref dit dan hul oog op die twee-minuut resies deur die koerant.

Nóg ’n groot verandering oor die afgelope twee dekades in bladuitleg, is modulêre uitleg. “Die uitlê van artikels in blokke het dit baie makliker gemaak vir lesers. Hulle kan duidelik sien wat aangaan,” sê Gouws. Arlene Prinsloo, Die Burger se tipografiese redakteur, stem saam dat modulêre uitleg dit makliker maak om te lees, maar sê egter dis die aanhalings, grafiese elemente en inligtingskassies wat die lokaas van die koerant is. Sy meen ook dat agendastelling ’n groot deel van ’n blad­opmaker se taak is. “Die oomblik wat ’n groot storie breek, soek ’n mens die beste foto-materiaal moontlik om ’n impak te maak en só vir lesers te wys hoe belangrik die storie is.”

Prinsloo, wat Die Burger herontwerp het en haar bes probeer het om ook visuele joernalistiek op elke bladsy die norm te maak, sê dagblaaie gebruik vandag baie meer kleur, en plaas groter klem op grafika en inligtingskassies. Dit trek aandag en kan vinnig gelees word – in die moderne koerantleser se kraal.

Wat foto’s betref, het koerante net toe­nemend beter geraak. Die eerste kleur­foto’s wat in Beeld verskyn het, was dié van Prins Charles en Diana se troue in 1981. Vandag kan jy jou amper nie ’n dagblad sonder kleur voorstel nie, laat staan ’n voorblad.

Tydens die onlangse vreemdelingehaat-aanvalle in Suid-Afrika het Die Burger byna elke dag ’n groot kleurfoto op die voorblad gehad. Iemand wat aan die brand gesteek is, hawelose kinders, en talle wat met skreeuende plakkate in ons groot stede betoog.

“’n Foto soos die brandende man tydens hierdie aanvalle dra waarskynlik die ontstellende werklikheid beter oor as ’n beskrywing daarvan,” meen Kloppers. Koerante is die “oë en ore van die publiek”. “Deur foto’s te plaas wys jy vir die publiek presies wat daar gebeur het en hoe dit gelyk het. Jy plaas die publiek op die toneel.”

’n Meester in koerantuitleg, Mario García, wat reeds vir 30 jaar publikasies herontwerp, sê mense skenk 20% minder aandag aan swart-en-wit foto’s as aan kleurfoto’s. Vir diegene wat net na foto’s kyk vir die nuus, gaan daar dalk ’n belangrike boodskap verlore. Soos García bylas, “ons is ’n gemeenskap van ‘scanners’ wat na die koerant loer en lees wat ons aandag trek. Die uitda­ging bestaan dan vir koerante om van die eerste tot die laaste bladsy aandag te trek.”

In ’n studie oor Die Burger se voorblaaie van die laaste twee of drie dekades, is dit duidelik dat koerante aansienlik verander het in terme van uitleg. Die inlasfoto’s van Die Burger vanaf 1978 tot vandag spreek vanself: Kleiner foto’s, kleiner opskrifte, uitleg wat nie modulêr is nie en natuurlik kleur wat eers veel later in die prentjie gekom het. Selfs die “gryse ou dame”, The New York Times, het in 1998 ook die oorgang na kleurfoto’s gemaak.

Daar is ook ’n mate van “kul jou hier, kul jou daar” as dit kom by koerantverkope. Koerante se grafiese personeel sal elke toertjie in die boek probeer as dit sal verseker die leser tel hul koerant in plaas van die kompetisie s’n op.

Volgens Gouws is Rapport se voorblad, die eerste Sondag ná die storie van René Burger se verkragting gebreek het, ’n goeie voorbeeld hiervan. Met die druk van die koerant was haar naam egter nog nie bekendgemaak nie, maar die voorblad met ’n groot foto van Karen Zoid saam met die berig van die persoon wat verkrag is, het dit laat lyk of Zoid die slagoffer was. Dít was selfs vir ’n kenner soos Gouws verwarrend.

Maar hoe lank kan hierdie kompetisie vir die vinnigste nuus, kortste stories en meeste interaktiwiteit voortduur voordat koerante die punt bereik waar die internet reeds vir etlike jare is? Waar internetverbruikers die nuus in ’n vinnig-lees formaat letterlik aan hulle vingerpunte het.

Rodger Fidler, ’n professor in joernalistiek aan die Universiteit van Kent in die VSA, het selfs so ver gegaan om die stelling te maak dat drukmedia, soos wat ons dit vandag ken, teen 2020 nie meer sal bestaan nie en deur digitale media vervang sal word. “Die skrif is al klaar teen die muur, of eerder, op die skerm.”

Maar is dit werklik die begin van die einde? Het ons só ontwikkel dat koerante dalk nog net een generasie gaan bestaan?

In die lig van al die veranderinge in die mediategnologie, kan ’n mens maar net wonder oor die toekoms van koerante.

Prinsloo is egter nie bekommerd nie. “Ek dink dagblaaie het ’n toekoms indien ons saam met die samelewing en hul behoeftes verander.”

García het dít tydens die WAN-kongres in Kaapstad verlede jaar beaam. “Mense lees nog steeds, al wat hulle nodig het is bietjie ‘magic’. Dink Harry Potter.”